5th June 2020

Week 1 van die Gr. 12-leerders verloop seepglad!

Op 1 Junie 2020 het Hoërskool Punt se matrieks na meer as 2 maande se inperking teruggekeer na die skoolbanke. Personeel en leerders was opgewonde tog met ʼn tikkie vrees in die hart.

Reeds in die eerste week van “Lock down” het die beplanning begin. Die primêre doelwit was om ʼn sisteem in plek te sit om die veiligheid van elke leerder en personeellid te verseker. Geweldig baie navorsing is gedoen om die regte produkte vir sanitering aan te koop. Eenvormige maskers vir leerders en personeel, wat voldoen aan die regering se spesifikasies, is bestel en graad 12 leerders is daarmee uitgereik. Hoërskool Punt se sportbestuurder se posbeskrywing het letterlik verander na Veiligheidsbeampte. Mnr. JR Foreman het saam met sy span reuse werk gedoen om alles in plek te kry voordat personeel en leerders arriveer.

Die gemeenskap se hand was oop en verskeie borge vir maskers is deur ouers, vriende en die personeel van Life Bay View Privaat Hospitaal verskaf. Die administratiewe personeel, koshuispersoneel, algemene werkers en personeel is deeglik deur kundiges van Life Bay View Privaat hospital opgelei. ʼn Ouer van die skool het ook 20 handsaniteringsstasies aan die skool geskenk. Vir hierdie ondersteuning is ons as skool baie dankbaar.

Ons is baie dankbaar om te kan sê dat die eerste week skitterend verloop het. Enkele haakplekke is maklik uitsorteer en na ʼn week by die skool begin die matrieks van 2020 aan die ongewone omstandighede gewoond raak. Die samewerking van die leerders was uitstaande.

Mosselbaai Onderwys Kringkantoor se veiligheidsbeampte het ook ʼn inspeksiebesoek aan die skool gebring. ʼn Vol telling van 10 uit 10 is deur die skool behaal. Mediese personeel van Life Bay View Hospitaal het ook ʼn besoek aan die skool en koshuis gebring. Hulle was vol lof vir al die voorbereidings en prosedures.

Daar word nou uitgesien na die terugkeer van die res van die Visse. Die graad 10 en 11 leerders keer DV 6 Julie terug en die graad 8 en 9 leerders op 3 Augustus. Hierdie leerders ontvang steeds afstandsonderrig van die skool.
Personeel en leerders is uiters gemotiveerd om die 2020 akademiese jaar met sukses af te handel. Harde werk en lang ure lê egter nou voor. Hoërskool Punt wil elke leerder sterkte toewens vir die res van die akademiese jaar.