Ses van Hoërskool Punt se dogters is vanaf 7 tot 11 Augustus na Cradock vir deelname aan die Marilie Moolman Tennistoernooi. Die dogters is vergesel deur Mnr. Paul van Tonder (Afrigter) en Me. Mignet Smit (Spanbestuurder). Dit was die 18e jaar wat hierdie toernooi aangebied is, maar dit was die eerste keer dat Punt ‘n dogtersspan ingeskryf het.
Daar was altesaam 16 skole van oor die land (10 seuns- en 6 dogtersspanne) wat aan hierdie spoggeleentheid deelgeneem het.
Die volgende dogters het Hoërskool Punt by die toernooi verteenwoordig:
Graad 8: Kayla Esselen en Mieke Theron
Graad 9: Anika Otto
Graad 11: Megan Leonard, Karen Theron en Minette van Zyl.
Hierdie dogters het te staan gekom teen die volgende skole:
1. Paarl Girls High – die wenners van die 2017 toernooi
2. Hoërskool Cradock
3. Pearson High School van Port Elizabeth
4. Eunice High School van Bloemfontein – die wenners van die toernooi vanaf 2010 tot 2014 en ook 2016
5. Hoër Meisieskool La Rochelle, Paarl
Die kompetisie was baie sterk, en hoewel ons spelers slegs teen Cradock gewen het, kan hulle ongelooflik trots wees op die manier waarop hulle deelgeneem het. Met elke wedstryd het hulle verbeter en was baie ongelukkig om nie teen Eunice en LaRochelle te wen nie. Die dogters se veggees was regtig prysenswaardig.
Die twee spelers wat regtig uitgestaan het was Kayla Esselen en Mieke Theron. Beide van hulle het 4 van hul 5 wedstryde (enkels) gewen en saam het hulle al 5 hulle wedstryde (dubbels) gewen.
Tydens die prysuitdeling Saterdagaand, het Minette van Zyl die Marilie Moolman Trofee ontvang. Hierdie toekenning word gegee aan die speler wat die grootste impak op die toernooi gehad het. Goeie gedrag, op en van die baan af, is ‘n voorvereiste asook goeie sportmangees. Hierdie toekenning simboliseer die speler wat as ‘n rolmodel voorgehou kan word aan juniors in Suid-Afrika.
Baie geluk, Minette, jy was regtig ‘n ambassadeur vir Hoërskool Punt!