22nd May 2019

Punt-Knipmesbraai 2019

ʼn Eerste vir Hoërskool Punt asook Mosselbaai. Op Vrydag 17 Mei het Hoërskool Punt se eerste Knipmesbraai plaasgevind. Die doel van die funksie was om ʼn geldjie vir die skool in te samel, waarmee die voorportaal van die skool opgegradeer gaan word, maar ook om die manne van Mosselbaai-gemeenskap bymekaar te bring.
Die beplanning het reeds vroeg begin. Die sukses van die funksie, sou die funksie se voortbestaan in die toekoms bepaal. Vierhonderd kaartjies is gedruk en moes aan die gemeenskap verkoop word. Hoë kwaliteit knipmesse is bestel met Hoërskool Punt se skoolwapen op. Hierdie moes later die trots van die manne word.
Al 400 kaartjies is met gemak verkoop. Die opgewondenheid het hoog geloop. ʼn Heerlike voorgereg van biltong, cabanossies, ʼn verskeidenheid van brode en smere is aan die manne voorgesit. Hierdie eetgoed het soos mis voor die son verdwyn. Veertien skape is deur mnr. Marais Pelser en Gustav Steinhöbel gespit vir die aand. Hierin het die manne met hul nuwe knipmesse weggelê. Slegs die bene van die karkasse het oorgebly.
Gedurende die funksie het daar ook ʼn veiling plaasgevind. Die manne van die gemeenskap het dit uiters goed ondersteun. Opregte dank word hiervoor uitgespreek.
Om kort saam te vat. Hierdie geleentheid was ʼn reuse sukses. Nuwe vriendskappe en bande is tussen 400 mans van die gemeenskap gesmee. Daar is net weer tot die besef gekom dat die toekomstige voortbestaan en sukses van ʼn dorp by sy skole en natuurlik die ondersteuning van die gemeenskap lê.
Opregte dank word uitgespreek teenoor elke man wat ʼn kaartjie gekoop het en die funksie ondersteun het. Aan al ons borge wat eetgoed en pryse voorsien het wil ons baie dankie sê. U ondersteuning en hulp het bygedra tot die sukses van die aand.
Aan die manne van Mosselbaai. In 2020 gaan ons groot. Ons mikpunt is om 600 manne van die gemeenskap bymekaar te bring. Maak seker jy mis nie jou kaartjie en knipmes vir 2020 nie.
Punt-groete.

Mnr. A.J. Gouws  (Skoolhoof)