Aan die begin van 2020 was die personeel van HS Punt gereed om weer die 2-jaarlikse personeel-melodrama op die planke te bring. Covid-19 het egter ook hierdie projek gekelder. Ons het besef dat ons “out of the box” sal moet dink om hierdie fondsinsameling te red. Na deeglike beplanning het ons besluit om wel die Melodrama aan te bied maar op ‘n “ander” manier. Die idee van musiek videos wat in die vorm van ‘n outyde fliek vertoon word, was die oplossing.
Mosselbaai-toerisme het ook erg onder die Covid-19 deurgeloop en ons as skool het besluit om ook ons deel te doen om ons dorp te bemark. Ons het die video opnames by plaaslike besighede, Hartenbos Seefront en die ATKV-Hartenbos gedoen sodat dit ook aan ons besighede en instansies blootstelling kan gee. Dit is vir Hoërskool Punt baie belangrik om by ons plaaslike gemeenskap betrokke te wees sodat ons kan hande vat en ons dorp bemark. Toerisme is ‘n groot inkomste vir ons dorp en ons moet mekaar ondersteun om toeriste hierheen te lok.
HS Punt bedank al die besighede/instansies wat ons toegelaat het om van hul fasiliteite gebruik te maak.
Trots Punt – Proudly Mossel Bay!