26th February 2019

Marita van der Vyver besoek HS Punt:

Wat ‘n aangename verrassing toe ek ‘n oproep kry dat dié Marita van der Vyver ons skool wil besoek. Haar jongste boek “Al wat ek weet” het groot opslae gemaak en Marita het ook laat val dat ‘n rolprent (nes, Dis koue kos, skat en Die wonderlike avonture van Hanna Hanekom) van hierdie boek geskiet gaan word.

Marita het met die gr. 11-leerders oor haar lewe (in fast forward) en haar nuwe boek gesels. Al wat ek weet is ‘n kragtoer wat ook as naaswenner in LAPA Uitgewers se jeugroman-kompetisie bekroon is. Marita skryf graag boeke vir die jeug, maar noem ook dat ‘n volwasse persoon dit kan geniet, “hetsy hulle oopkop is”, sê sy met ‘n glimlag.

Al wat ek weet gaan oor ‘n tienerseun, Gabriel, wat rap-lirieke skryf om sy woede in woorde om te sit. Marita het selfs van “Gabriel” se rap-lirieke voorgelees en die leerders het dit vreeslik geniet. Hulle beskryf haar as die “coolste tannie op Aarde.” Amper soos haar boek vir peuters “Die coolste ouma op Aarde.”

Marita is tans woonagtig in Frankryk en het genoem dat tieners vandag dieselfde probleme daar as in Suid-Afrika ervaar.

Ons leerders het aan haar lippe gehang en was in vervoering oor haar warm, borrelende persoonlikheid. Sy het vier tieners grootgemaak en daarom het sy eerstehandse ervaring van hoe om met die jeug te werk. Sy het daarin geslaag om deurentyd die leerders se aandag te hou.

Leerders het die geleentheid gehad om vrae te vra. Een van die vrae was hoe sy ‘n storie kies. Daarop het sy geantwoord dat die storie haar kies. Sy het laat deurskemer dat sy dalk nie nog ‘n jeugboek gaan skryf nie omdat haar jongste tiener uit die huis is.

Leerders is met die volgende gelaat: “Life is what happens when you make other plans.”